Die antwoorde op hierdie vrae word duidelik wanneer ons die konsep van die Messias ondersoek.
Messias is ’n Hebreeuse woord wat “Gesalfde” beteken. Salwing was onder meer gebruik om aan te dui dat konings deur God gekies was (1 Samuel 15:1;16:12-13; 1 Konings 1:34). Christus beteken “Gesalfde Een” in Grieks, die taal waarin die Nuwe Testament vir ons bewaar is—dieselfde as die Hebreeuse woord Messias. Die twee terme beteken dieselfde (Johannes 1:41; 4:25).
’n Geprofeteerde koning en koninkryk
Die Hebreërs het verstaan dat hulle Skrifte baie profesieë bevat het van ’n goddelik aangestelde heerser wat die heerlikheid en grootsheid van die koninkryk van Israel sou herstel. Jesaja 9:5-6 sê byvoorbeeld: “… die heerskappy is op sy skouer … tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid …”
Jeremia 23:5 voeg by: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.”
Nadat die koninkryke van Israel en Juda in ballingskap geneem was deur onderskeidelik Assirië en Babilon, het die Israelitiese volk na hierdie beloftes gekyk vir ’n verlosser. In Christus se dag was die afstammelinge van die Jode wat etlike eeue vroeër van Babilon na hul vaderland teruggekeer het, deur die Romeinse Ryk oorheers. In hul onderdrukking het hulle gebid en gehoop op die beloofde Messias, ’n oorwinnende koning wat hulle van hul Romeinse heersers sou verlos en Israel tot grootheid sou herstel.
Uit baie profesieë het hulle korrek afgelei dat die Messias binnekort sou verskyn. Hulle was baie hoopvol. Toe Johannes die Doper op die toneel kom, het sommige gedink dat hy dalk die Messias was. Die Skrif sê vir ons dat “die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus [Messias] was nie” (Lukas 3:15).
Johannes het gesê hy is nie die Messias nie, maar hy het mense na Jesus van Nasaret verwys. Een van Johannes se volgelinge, ’n visserman genaamd Andreas, het dadelik in Jesus geglo. “Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messias gevind—dit is, as dit vertaal word, die Christus (Johannes 1:41-42). Beide Andreas en Simon (Petrus) het dissipels geword.
Jesus bevestig Hy is die Messias
Jesus het in ’n gesprek met ’n Samaritaanse vrou erken dat Hy die langverwagte Messias was. “Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messias kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4:25-26, beklemtoning deurgaans bygevoeg).
Jesus het ook erken dat Hy die Messias was tydens Sy verhoor. “… Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus [Messias], die Seun van die geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel” (Markus 14:61-62).
Jesus het geweet dat Hy gebore was om ’n koning te wees. Toe Pontius Pilatus Hom voor Sy kruisiging ondervra het, het hy vir Jesus gevra of Hy wel ’n koning is. Jesus het geantwoord: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom …” (Johannes 18:36-37).
Die dissipels se misverstand
Dat Jesus se koninkryk nie vir daardie tyd was nie, was deur die meeste van Sy volgelinge verkeerd verstaan. Hulle het aangeneem dat Jesus Christus ’n volksopstand sou lei wat die Romeine sou afwerp en ’n nuwe politieke entiteit sou stig. Onder mekaar het sommige van die dissipels selfs soms gestry oor wie van hulle die primêre posi- sies in die nuwe regering sou beklee (Matteus 20:20-21; Lukas 9:46; 22:24).
Hulle begrip was beperk. Hulle het nie besef dat Christus eers moes kom om te ly en te sterf vir die sondes van die mensdom nie, en eers later sou kom as die oorwinnende koning wat hulle verwag het.
Toe Jesus verhoor en tereggestel was, was hulle verslae. Hulle hoop en drome van mag was verpletter. Petrus en van die ander dissipels het na hulle ou beroepe as vissermanne teruggekeer (Johannes 21:1-3).
Selfs nadat Jesus weer aan hulle verskyn het, het hulle steeds nie verstaan nie. Hulle het steeds gehoop dat Christus toe die Koninkryk van God sou vestig. Let op Handelinge 1:6-8: “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”
Jesus het verduidelik dat die tydsberekening van daardie koninkryk nie hulle primêre bekommernis moet wees nie; hulle sou inderdaad nie weet wanneer dit gestig sou word nie. Hulle fokus, het Christus gesê, moet wees op die werk wat Hy aan hulle opgedra het. Die Koninkryk van God sou op die bestemde tyd gevestig word.
Uiteindelik het hulle verstaan. Jesus van Nasaret was wel die beloofde Messias, maar eers moes Hy vir hulle sondes ly en sterf. Later sou Hy as ’n oorwinnende koning kom om die Koninkryk van God te vestig.
Die dosyne profesieë wat deur die profete opgeteken was oor ’n Messias—profesieë wat deur Jesus Christus vervul was—is van die sterkste bewyse dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. Die vier Evangelies herinner aan die Ou-Testamentiese profesieë en wys hoe Jesus Christus dit vervul het.
Die Evangelies praat ook van Sy opstanding en uiteindelike terugkeer na die aarde as oorwinnende Koning. Dit is die boodskap van die Evangelies—dat Jesus Christus die Messias is wat regdeur die Ou Testament geprofeteer was. Om meer te wete te kom oor Jesus se rol, versoek die gratis boekies: Jesus Christ: the Real Story en Who is God?
