Die tema van Jesus Christus se boodskap was die goeie nuus van die Koninkryk van God. Dit word duidelik gemaak deur Matteus, Markus en Lukas. Lukas teken Christus se eie woorde op wat Sy doel beskryf: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43).
Markus vertel dat Jesus aan die begin van Sy bediening, “in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” het (Markus 1:14).
Matteus sê vir ons, “… Jesus [het] begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom … En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig …” (Matteus 4:17-23).
Matteus sê vir ons, “… Jesus [het] begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom … En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig …” (Matteus 4:17-23).
Lukas 8:1 bevestig dat Jesus Christus presies wat Hy gesê het Hy sou doen, gedoen het: “En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie [goeie nuus] van die koninkryk van
God verkondig …” Hierdie boodskap van die Koninkryk was van die begin af die hart en kern van Christus se lering. Die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes gebruik gesamentlik die term “koninkryk van God,” in 53 verse. Die evangelie wat Jesus Christus gebring het, gaan duidelik oor hierdie Koninkryk.
Ander aangesê om hierdie boodskap te versprei
Wat van Sy dissipels? Wat het Hy hulle beveel om te preek? “En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Lukas 9:1-2).
Later het Hy ander opdrag gegee om dieselfde boodskap te verkondig. “En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.” Hy het die sewentig opdrag gegee om te verkondig: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Lukas 10:1-9).
Die Koninkryk van God was duidelik die tema van Christus se bediening. In die Bergpredikasie, een van die bekendste voorbeelde van Sy boodskap, het Hy Sy volgelinge na die Koninkryk gewys. Hy het Sy boodskap begin met: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele … Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matteus 5:3-10).
Christus het Sy volgelinge vertel van die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God se wet, om in hierdie Koninkryk in te gaan: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie” (Matteus 5:19-20).
Hy het ook gewaarsku dat ons onderdanig moet wees aan God se wil om in die Koninkryk in te gaan: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matteus 7:21).
Hy het Sy volgelinge geleer om te bid “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:10). Let ook hierop! Hy het hulle beveel “soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matteus 6:33). Om die Koninkryk van God binne te gaan moet ons belangrikste prioriteit wees.
Keer op keer het Hy gelykenisse gebruik om aspekte van die Koninkryk te illustreer (Matteus 13, 20, 22, 25; Lukas 13, 19). Net voor Sy kruisiging het Hy aan Sy dissipels opgemerk dat Hy nie aan die Pasga-simbole sou deelneem voordat Hy dit weer “met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader” nie (Matteus 26:29).
Oor ’n tydperk van 40 dae onmiddellik na Sy dood en opstanding, was Jesus Christus deur Sy volgelinge gesien. Let op dat Hy selfs tóe “oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het” (Handelinge 1:3).
Watter boodskap het Christus se volgelinge verkondig?
Jesus Christus was nie die enigste een wat hierdie boodskap verkondig het nie. Voordat Jesus Sy bediening begin het, het Johannes die Doper mense beveel om hulle te bekeer, en aangekondig dat “die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 3:2).
Soos ons gesien het, het Jesus se bediening op die Koninkryk gefokus. In ooreenstemming met Christus se leiding, het Sy dissipels voortgegaan om die Koninkryk na Sy kruisiging te verkondig.
Die belangrikheid van Jesus Christus se lewe, offer en opstanding was ’n belangrike deel van die boodskap wat deur die apostels geleer was. Die apostel Petrus het dit duidelik gemaak in sy eerste openbare prediking op dieselfde dag toe die Kerk met die wonderbaarlike uitstorting van die Heilige Gees begin het (Handelinge 2:22-36).
Petrus het ook in sy bediening gepraat van die breër begrippe van die Koninkryk van God. In 2 Petrus 1:10-11 lees ons: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”
Let ook op dat mense die doop versoek het as gevolg van Filippus se boodskap oor die Koninkryk. “Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus
verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue” (Handelinge 8:12).
Paulus het die Koninkryk verkondig
Wat van die apostel Paulus? Die boek Handelinge meld dat hy vroeg in sy bediening, terwyl hy gemeentes in verskeie stede opgerig het, “die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan [het] om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Later, in Efese, het hy “in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan” (Handelinge 19:8).
Paulus het sy eie prediking in Korinte beskryf met betrekking tot “die koninkryk van God” (1 Korintiërs 4:20). Hy het na homself en sy metgeselle
verwys as “medewerkers vir die koninkryk van God” (Kolossense 4:11). Toe hy naby die einde van sy bediening in Rome onder huisarres was, het Paulus ’n aantal besoekers ontvang, “en in ’n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus” (Handelinge 28:23). Let op dat Paulus die Ou-Testamentiese geskrifte gebruik het—”die Wet van Moses en die Profete”—om oor beide die Koninkryk van God en Jesus Christus te preek.
Daar word verkeerdelik voorgestel dat Paulus ’n evangelie verkondig het oor slegs die lewe, dood en opstanding van Christus.
Die realiteit is egter dat Paulus ’n boodskap oor beide Jesus Christus en die Koninkryk van God verkondig het. Die laaste vers van die boek Handelinge beskryf Paulus “terwyl hy die koninkrk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus …” (Handelinge 28:31).
Diegene wat in Jesus Christus se voetspore gevolg het, het dieselfde boodskap geleer wat Hy geleer het. Die boek Handelinge en die apostels se briewe aan die vroeë kerk maak dit duidelik dat hulle oor die Koninkryk van God geleer het.
Die evangelie voor Jesus Christus
Sommige het aangeneem dat die evangelie die eerste keer deur Jesus Christus in Sy aardse bediening bekendgestel was. Die evangelie is egter baie ouer as dit. Dit word “’n ewige evangelie” genoem (Openbaring 14:6).
Die laaste vier verse van Hebreërs 3 praat van antieke Israel se ongeloof en die droewige lot van diegene wat in die woestyn gesterf het, en nie die beloofde land binnegegaan het nie. Hebreërs 4:2 gaan voort met die verhaal: “Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle …” Israel het die evangelie gehoor, maar het versuim om te reageer weens ’n gebrek aan geloof.
Honderde jare voor dit het die aartsvader Abraham ook die evangelie gehoor (Galasiërs 3:8). Beide hierdie gedeeltes bevestig dat die evangelie voor Christus se bediening op aarde verkondig was.
Deur te beskryf hoe Hy met Sy wederkoms diegene sal beloon wat getrou was aan Sy lewenswyse, het Jesus Christus geopenbaar dat die Koninkryk van God baie langer vir ons voorberei is as wat ons kan dink. “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matteus 25:34).
Hierdie goeie nuus oor die glorieryke toekoms van die mensdom was van die begin af God se plan! Christus se aandeel in daardie plan, insluitende Sy offer om die straf vir die sondes van die mensdom te betaal, was ook van die begin af vasgestel (Openbaring 13:8; 1 Petrus 1:18-20). Dit was die goeie nuus wat aan Abraham gegee was—dat deur sy nakomeling, Jesus Christus, alle nasies geseën sou word (Galasiërs 3:8-16).
Min het voor Jesus Christus verstaan
Die Koninkryk van God was deur God se dienaars verkondig voor Jesus Christus se bediening op aarde. Koning Dawid het in sommige van sy psalms profeties na God se Koninkryk gekyk. Hy skryf byvoorbeeld in Psalm 145:10-13: “Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.”
Die profeet Daniël het ook geweet van die komende Koninkryk van God. Hy was ook geïnspireer om oor die toekomstige werklikheid van die Koninkryk te skryf: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).
Alhoewel die evangelie met die grondlegging van die wêreld ontstaan het en deur die eeue heen verkondig was, het min dit verstaan totdat Jesus Christus en die apostels dit aan die wêreld verkondig het.
Waarom? Antieke Israel, soos vroeër opgemerk, het nie die geloof gehad om dit te verstaan en daarop te handel nie (Hebreërs 3:19; Hebreërs 4:2). Boonop het die Ou-Testamentiese geskrifte nie al die stukkies van die legkaart met mekaar verbind nie. Hulle het ’n aanloklike blik van die Koninkryk verskaf, maar groter begrip moes wag tot die koms van Jesus Christus, die openbaarder van “die verborgenhede van die koninkryk” (Matteus 13:11).
Toe Jesus Christus die evangelie van die Koninkryk van God kom verkondig het, het Hy gebou op die fondament wat reeds van die begin af deur God die Vader beplan en deur die vroeëre profete geopenbaar was. As die boodskapper van die Koninkryk het Hy lewensbelangrike waarhede geopenbaar wat nie uit die Ou-Testamentiese profesieë verstaan was nie.
Een van die groot misverstande oor die Koninkryk, wat nie duidelik gemaak was voordat dit deur Jesus Christus geopenbaar was nie, was dat duisende jare Sy eerste koms as die offerlam van God (Johannes 1:29) sou
skei van Sy wederkoms as die oorwinnende Koning van die Koninkryk (Openbaring 19:11-16). Sy eerste koms het ’n belangrike deel van die evangelie van die Koninkryk vervul—Sy offer om ons vergifnis, regverdiging en uiteindelike toetrede tot die Koninkryk moontlik te maak. Sy wederkoms sal die vestiging van daardie ongelooflike Koninkryk bring. Die Bybel verkondig ’n konsekwente boodskap van begin tot einde aangaande die Koninkryk van God, ’n boodskap wat deur die eeue deur God se dienaars gelewer was. Maar, paradoksaal genoeg, blyk die deel van die openbaring oor die Koninkryk van God wat die volledigste en duidelikste in profesie na profesie in die Ou Testament beskryf was—’n letterlike koninkryk wat deur ’n geprofeteerde Messias regeer word—die aspek van die evangelie wat vandag die minste verstaan word.
Baie glo dat die fantastiese waarheid dat volgelinge van Jesus Christus die ewige lewe in ’n ewige Koninkryk sal geniet, enige behoefte aan ’n letterlike aardse heerskappy oor fisiese mense, totaal onnodig maak.
Maar wat sê die Bybel? Kom ons sit alle vooropgestelde idees opsy en glo die eenvoudige leringe van God se Woord.
