Kort voor Sy inhegtenisneming, verhoor en kruisiging het Jesus Christus geprofeteer van ’n wêreldwye tydperk van omwenteling en onrus wat ongeëwenaard in die menslike geskiedenis sou wees. Hierdie tyd sou gekenmerk word deur godsdienstige misleiding, oorlogvoering, aardbewings, hongersnood en siekte-epidemies, tesame met ander groot katastrofiese gebeure (Lukas 21:7-28). In hierdie diskoers het Christus dit duidelik gemaak dat die Koninkryk van God nog nie hier was nie.
Hy het vir Sy dissipels gesê dat mense na hierdie gebeure “die Seun van die mens [sal] sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid … So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21: 27-31). Christus het duidelik gesê dat die Koninkryk van God eers op aarde gevestig sal word na Sy triomfantlike wederkoms in krag en groot heerlikheid. Christus het dit ook by ander geleenthede duidelik gemaak. Hoeveel van ons het die Onse Vader opgesê sonder om die duidelike betekenis van die woorde wat ons gesê het te besef? Hierdie bekende woorde is deur Jesus Christus gegee in reaksie op die dissipels se versoek aan Hom om hulle te leer hoe om te bid. “Só moet julle dan bid,” het Jesus Christus vir hulle gesê. “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom” (Matteus 6:9-10). Die mees algemene gebed in die Christendom erken dat God se Koninkryk nog nie hier is nie en dat Christene vurig moet bid vir die koms daarvan!
Na aan die einde van Sy lewe, terwyl hy deur Pilatus voor Sy kruisiging ondervra was, het Jesus duidelik gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Pilatus het toe geëis om te weet of Christus ’n koning is. Christus het geantwoord: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom …” (Johannes 18:37). Hebreërs 11 beskryf die geloof van God se dienaars deur die millennia. In opsomming van hul geskiedenis en ondervindinge, vertel Hebreërs 11:13-16 vir ons: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ’n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.”
Selfs Abraham, die vader van die gelowiges, het “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10). Alhoewel God se mense vandag ’n voorsmakie van God se komende Koninkryk in hulle lewens ervaar, maak baie skrifte dit duidelik dat die Koninkryk van God nog nie aangebreek het nie, maar in die toekoms op die aarde gevestig sal word.
