Die evangelie van die Koninkryk van God is die boodskap wat Jesus Christus Sy volgelinge leer om te glo.

Ons wêreld het dringend goeie nuus nodig.

Vandag se opskrifte is gevul met slegte nuus—oorloë wat regoor die wêreld woed; hongersnood wat hele lande verwoes; om-gewingskatastrofes en natuurrampe soos aardbewings, droogtes en vloede wat duisende mense se dood veroorsaak; knaende armoede wat hele nasies in sy wrede greep hou; geweldsmisdaad neem toe ten spyte van die mens se beste pogings om dit te hanteer—die litanie van tragedies en slegte nuus is meedoënloos.

Ongelukke en siektes maak elke dag duisende dood. Tragies genoeg is ongelukke, selfmoorde en moorde hoofoorsake van dood onder tieners en jong volwassenes in ekonomies en tegnologies gevorderde lande. Dwelm- en alkoholmisbruik en seksuele losbandigheid vier hooggety, wat epidemies van gebroke huwelike, gebroke huise en gebroke lewens meebring.

Verstommende nuwe siektes duik regoor die wêreld op en trotseer die beste pogings van wetenskaplikes om dit te beperk of te genees. Ander siektes, wat lank vermoedelik deur die mediese wetenskap oorwin was, duik weer met mening op nadat hulle weerstandig geword het teen die medisyne wat hulle, slegs ’n paar dekades gelede, maklik genees het.

Selfs godsdiens, waarheen baie gaan om oplossings te soek, is dikwels deel van die probleem. Op enige gegewe tydstip vlam oorloë en gewapende konflikte op, aangeblaas deur die vure van godsdienstige ywer. Oorloë word nie net tussen groot godsdienste gevoer nie, maar tussen sektes van dieselfde godsdiens, kwansuis uit toewyding en diens aan dieselfde God.

Menslike bestaan bedreig

In hierdie eeu is meer as 150 miljoen mense alleen in oorloë dood. Meer as 100 miljoen het gesterf van siektes en natuurrampe. Skrikwekkende kern-, chemiese en biologiese wapens het die vermoë om leërs—selfs hele nasies—in sekondes te vernietig. Regeringsleiers raak toenemend bekommerd oor sulke skrikwekkende massavernietigingswapens wat in die hande van terroriste, wat vir niks sal stop om hul doel te bereik nie, kan val.

Hoekom sien ons soveel hartseer en lyding rondom ons? Waarheen lei dit? Waarom is die wêreld in so ’n benarde toestand? Met al hierdie slegte nuus, Is daar werklik enige hoop vir die toekoms van die mensdom?

Meer as 2,000 jaar gelede het Jesus Christus, die einste Seun van God, aarde toe gekom en ’n wonderlike toekoms, na ’n intense tydperk van aardskuddende rampe, vir die mensdom geprofeteer. Sy boodskap, wat “die evangelie” genoem word, beteken “goeie nuus”—die baie goeie nuus wat die wêreld so broodnodig het.

Maar wat presies is hierdie goeie nuus—hierdie evangelie—wat Jesus Christus verkondig het? Is dit net ’n wonderlike verhaal oor Jesus Christus se geboorte, lewe, aktiwiteite, dood en opstanding? Dit is beslis ’n integrale deel van die goeie nuus van God se plan vir die mensdom (Markus 1:1), maar daar is soveel meer aan Sy boodskap.

Boodskap van verlossing

Ons sal sien dat die goeie nuus wat Jesus Christus gebring het nie net ’n boodskap is oor Sy lewe en dood wat tot ons redding lei nie; Sy boodskap handel ook oor die betekenis van verlossing en hoe Hy van plan is om die mensdom van sy huidige probleme te red. Die evangelie openbaar die glorieryke bestemming van die mensdom!

Ongelukkig het die mensdom die evangelie gereduseer tot die verhaal oor die persoon van Jesus Christus, terwyl hulle die dieper en veel meer omvattende boodskap wat Hy gebring het, verwaarloos en oor die hoof gesien het. Hy het beslis goeie nuus gebring—die wonderlikste nuus wat hierdie moeë wêreld vol beroeringe kan hoor! ’n Hele gedeelte van die Nuwe Testament word gewy aan die historiese rekord van die boodskap wat Jesus Christus, terwyl Hy op aarde was, geleer het. Hierdie gedeelte van die Bybel, wat gepas “die Evangelies” genoem word, bestaan uit die eerste vier boeke van die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Die skrywers van hierdie verslae vertel almal dat Jesus se primêre boodskap die evangelie van die Konink-ryk van God was.

Markus sê vir ons: “Jesus [het] in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15, beklemtoning deurgaans bygevoeg). “Die evangelie van die Koninkryk van God” is die boodskap wat Jesus Christus Sy volgelinge opdrag gee om te glo. Hierdie boekie sal u help om hierdie wonderlike goeie nuus wat Jesus Christus aan die mensdom aangekondig het, te verstaan en te glo!