Verlossing deur Jesus se lewe, dood en opstanding is sentraal in die evangelieboodskap. Jesus Christus het gesterf, was begrawe en opgewek vir ’n rede: sodat ons die ewige lewe in die Koninkryk van God kon beërwe (Johannes 3:16). Hierdie verstommende deel van die evangelie—die ingaan in die Koninkryk van God—is die aspek wat so min verstaan. Dit is sinoniem met redding. Sonder om hierdie deel van die evangelie te verstaan, kan ’n mens nie verstaan wat verlossing is nie. Weet u hoe om hierdie Koninkryk binne te gaan, om die verlossing te verkry waarvan die Bybel praat?

Om die familie van God in te gaan!

Wat sal redding—die ewige lewe in die Koninkryk van God—werklik beteken vir diegene wat dit ontvang? Ons het gesien dat redding die transformasie is van ’n vleeslike, sterflike mens na ’n onsterflike kind van God. Let op hoe die boek Hebreërs dit uitdruk: “Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak. Want Hy wat heilig maak [Christus], sowel as hulle wat geheilig word [berouvolle en bekeerde mense], is almal uit Een” (Hebreërs 2:10-11).

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33).

Het u dit al ooit vantevore begryp? Diegene wat die Koninkryk van God ingaan, is “almal uit Een”—God se familie! Almal is God se kinders, “na die heerlikheid” gebring—’n verheerlikte toestand van onsterflike gees (1 Korintiërs 15:42-44)—deur Hom. Dit is waaroor redding gaan. “Om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; … en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het” (Hebreërs 2:11-13).

Dat Jesus nie skaam is om hulle as Sy eie broers (en susters) te beskou nie, wys net hoe persoonlik hierdie familieverhouding is. Diegene wat die Koninkryk van God ingaan, sal selfs God se goddelike natuur deel (2 Petrus 1:4) tot in alle ewigheid.

God sal diegene wat Sy Koninkryk ingaan, ten volle soos Jesus Christus maak! Die apostel Johannes stel dit duidelik: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! … Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:1-2).

Ja, mense wat die Koninkryk van God ingaan, sal die glorieryke eer ontvang om soos die opgestane, verheerlikte Jesus Christus te wees. “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:16-17).

Dit is die ontsagwekkende potensiaal van almal wat die ewige lewe ontvang as lede van die familie wat God besig is om te skep!

Die beloning van die heiliges

Die beloofde beloning van die heiliges—of verlossing, soos dit dikwels genoem word—vind plaas by die opstanding uit die dood (1 Korintiërs 15:50-52). Dit vind plaas wanneer Jesus Christus by die laaste basuin terugkeer en “die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus” (Openbaring 11:15). Diegene wat uit die sterflike lewe tot onsterflikheid opgewek word, sal Sy Koninkryk ingaan en Christus bystaan in ’n 1,000-jarige heerskappy op aarde (Openbaring 20:4-6).

Die evangelie van die Koninkryk van God openbaar dat Jesus Christus Sy Koninkryk op aarde saam met Sy opgestane heiliges sal oprig om aan elkeen die geleentheid vir die ewige lewe te gee. God se begeerte is dat elkeen die Koninkryk van God moet beërwe, elkeen op sy of haar eie tyd (2 Petrus 3:9; 1 Korintiërs 15:20-26).

Die ware evangelie openbaar dat die heiliges—die getroue volgelinge van Jesus Christus wat met Sy wederkoms tot die ewige lewe opgewek word—aktief betrokke sal wees om saam met Jesus Christus in die Ko- ninkryk van God te regeer wanneer dit gevestig word (Openbaring 5:10). Profesieë in die boek Jesaja openbaar dat Christus met die mense sal begin werk wat na Sy wederkoms lewend gelaat is, om hulle Sy weë te leer. Die opgestane heiliges sal Christus bystaan om volkome geestelike en fisiese genesing van die nasies te bewerkstellig (Jesaja 30:20-21; 35:1-6).

Jesus Christus se getroue volgelinge, wat die ewige lewe gegee sal word, sal Hom as konings en priesters in die Koninkryk van God bystaan (Openbaring 1:6). Hulle sal gees word en vir ewig lewe (1 Tessalonisense 4:14-17; 1 Korintiërs 15:42-54).

Dit is God se ongelooflike belofte aan hulle: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Wat sluit hierdie erfenis in? Hebreërs 2:6-8 dui aan dat ons uiteindelike bestemming is om deel te neem aan heerskappy oor die ganse heelal as verheerlikte, onsterflike kinders van God! (Om die ontsagwekkende toekoms wat God vir ons beplan beter te verstaan, versoek ons gratis boekie What Is Your Destiny? of laai dit vanaf ons webwerf af).

’n Oproep tot aksie

Wanneer ons van die evangelie van die Koninkryk van God hoor en dit verstaan, verwag Jesus van ons om ons te bekeer en die goeie nuus oor hierdie Koninkryk te glo (Markus 1:14-15). Sy Koninkryk is iets wat ons moet betree (Markus 10:23-25).

Die aanvaarding van Jesus se opdrag om tot bekering te kom en hierdie boodskap, hierdie goeie nuus, te glo, is die eerste stap. Ons kan ons tot God wend vir vergifnis en versoening deur Jesus Christus en begin om volgens die wette van die Koninkryk van God te leef soos deur Jesus Christus geleer. Diegene wat weier om God se heilige lewenswyse uit te leef, sal toegang tot die Koninkryk van God en die ewige lewe geweier word (1 Korintiërs 6:9-10; Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 5:5).

Jesus het gewaarsku teen struikelblokke wat ons toegang tot die Konink- ryk kan verhinder (Matteus 5:20; 19:23-25; Markus 9:47; Lukas 18:17; Johannes 3:5). Om die Koninkryk in te gaan, moet ons ’n behoorlike beskouing bekom—’n nederige, leerbare, kinderlike gesindheid—gepaardgaande met ware bekering, doop en die ontvangs van God se Heilige Gees (Matteus 18:3; Johannes 3:3-5; Handelinge 2:38).

As u meer wil weet oor die doop en hoe u lewe kan verander, vra vir ons gratis boekie Wat u Moet Weet oor die Doop. Hierdie kennis is noodsaaklik om die Koninkryk van God in te gaan.

Om God se Koninkryk te soek, moet ons hoogste prioriteit word, maak nie saak wat die probleme is nie. Paulus het gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Jesus moedig ons aan om hierdie probleme te oorkom deur die Koninkryk van God as ons primêre doelwit te beskou (Matteus 6:33). Hy spoor ons aan om te bid dat God se Koninkryk moet kom (Matteus 6:10).

Wanneer ons lewens daaraan gewy word om God se Koninkryk te soek, sal ons lewensbeskouing wees soos dié van die aartsvaders soos opgeteken in Hebreërs 11. Let op hierdie inspirerende woorde oor hulle oriëntasie: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was … Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei” (Hebreërs 11:13-16). Die aartsvaders het hulself as “vreemdelinge en bywoners” beskou omdat hulle uitgesien het na die Koninkryk van God. Hulle lewens was gesentreer op daardie Koninkryk, nie op hulle fisiese, materiële lewens nie.

Padkaart vir die Koninkryk

Een manier waarop Christene hul visie van die komende Koninkryk van God kan verbeter, is deur die betekenis van God se sewe jaarlikse Heilige Dae te verstaan. Alhoewel die meeste mense aan hulle dink as slegs Joodse vieringe, het God dit duidelik gemaak dat dit in werklikheid Sy feeste en Heilige Dae is (Levitikus 23:2-4). God het hierdie spesiale herdenkings gegee om ons te help om Christus se aandeel in ons verlossing te verstaan en hoe die Koninkryk van God op aarde gevestig sal word.

In Kolossense 2:16-17 het Paulus na hierdie feeste verwys as “’n skaduwee (is) van die toekomstige dinge.” Paulus en die vroeë Kerk het hulle gehou as herinneringe aan die komende Koninkryk van God. Hoewel ander die Kolossense gekritiseer het vir die manier waarop hulle hierdie dae waargeneem het, het Paulus en die heiliges in Kolosse die verband tussen die doel van hierdie dae en die evangelie begryp.

Om die betekenis van hierdie jaarlikse heilige byeenkomste te verstaan, kan ons help om die wonderlike boodskap wat Jesus Christus geleer het—God se plan vir Sy komende Koninkryk en die ewige lewe—te verstaan. As u meer wil weet oor die jaarlikse feeste, vra vir ons gratis boekies Waarom is u gebore? en God se Plan Volgens Sy Heilige Dae.

God openbaar Sy wonderlike waarheid aan diegene wat Hy nou roep (Johannes 6:44). Jesus Christus het gesê dat Sy boodskap in die eindtyd voor Sy wederkoms verkondig sal word. “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14).

Die United Church of God is daartoe verbind om hierdie boodskap te verkondig en nooi u uit om Jesus Christus se vermaning te volg om dit te glo en daarop te reageer.

Om enigeen te help wat opreg die komende Koninkryk van God soek, bied ons ’n gratis tydskrif aan: Beyond Today. Elke uitgawe bevat artikels wat die leringe van Jesus Christus oor die komende Koninkryk van God verduidelik en wat u moet doen om daardie glorieryke Koninkryk binne te gaan. Kontak ons vir u gratis intekening.

Die boodskap wat Jesus gebring het, word gepas die goeie nuus—die evangelie—van die Koninkryk van God genoem. Dit is werklik goeie nuus, die wonderlikste nuus denkbaar vir die mensdom. Jesus Christus vra u om daardie goeie nuus te glo en “soek eers die koninkryk van God” (Matteus 6:33). As u dit doen, sê Jesus Christus in Lukas 12:32, sal dit God se plesier wees om vir u die Koninkryk te gee!