Ons het gesien dat Jesus Christus “die evangelie van die Koninkryk” verkondig het en dat Hy Sy dissipels uitgestuur het om Sy boodskap voor Sy kruisiging te verkondig. Die apostels het na Christus se dood egter ook ’n ander aspek beklemtoon in hulle boodskap, een wat nie moontlik was voor Christus se dood nie—Jesus Christus het die straf vir menslike sondes betaal! Deur dit te doen, het Hy die Verlosser geword van almal wat Sy offer sou aanvaar en die Christelike lewe sou lei.

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Romeine 1:16).

Na die Pinksterfees het die apostels voortgegaan om die Koninkryk van God te verkondig net soos hulle gedoen het toe Christus die aarde gewandel het, maar nou het hulle ’n ander dimensie verstaan en van gepraat: Die ewige lewe in daardie Koninkryk was nou moontlik deur die offer van Jesus Christus as Verlosser van die mensdom en deur Sy voortdurende rol as ons Hoëpriester.

Vandag beskou sommige die Bybelse terme “evangelie van die Koninkryk” en “evangelie van Christus” asof dit verskillende boodskappe is. In werklikheid is hulle egter een en dieselfde. Die evangelie van die Koninkryk is die boodskap wat Jesus Christus gebring en verkondig het. Die evangelie van Christus is ook die boodskap wat Jesus Christus verkondig het, saam met die boodskap aangaande Sy lewe, dood en offer namens ons, wat die ewige lewe in daardie Koninkryk moontlik maak. Die Koninkryk van God word slegs bereik deur Jesus Christus se sentrale rol as die persoonlike Verlosser van almal wat daardie Koninkryk sou ingaan.

Die apostels se verbeterde begrip word duideliker in hulle sendbriewe en ander boodskappe na Jesus Christus se dood en opstanding. Die mense van Christus se dag het ’n oorwinnende Messias verwag wat die juk van die Romeinse heersers van Judea sou afwerp en ’n nuwe koninkryk sou vestig. Christus se dissipels het Hom as daardie Messias erken en Hom “Christus” genoem (Matteus 16:16), wat in Grieks gesalfde beteken—dieselfde as die Hebreeuse woord “Messias” (Johannes 1:42; 4:25). Die term gesalfde het die een aangedui wat gekies was om Koning van daardie Messiaanse Koninkryk te wees.

Nuwe begrip van die Messias

Joodse gelowiges van die vroeë Kerk sou die frase “die evangelie van Christus” verstaan het as ’n boodskap wat veel meer insluit as net die persoon van Jesus Christus. Aangesien die woord Christus “Messias” beteken, het hulle die apostels se boodskap as “die evangelie van die Messias” verstaan—die goeie nuus van die Koning van die komende Koninkryk van God. Vir hulle was die goeie nuus nie net dat Christus vir die sondes van die mensdom gesterf het nie, maar dat die Messias gekom het, sou terugkeer, Sy Koninkryk sou oprig en die vele profesieë van Sy glorieryke heerskappy sou vervul.

Die konsep van ’n Koninkryk wat deur die Messias gestig was, was nie nuut vir Jesus Christus se volgelinge nie. Die Skrif meld dat “hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11). Toe Christus na Sy opstanding weer aan hulle verskyn het, het die dissipels gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6).

Wat die dissipels gedurende Christus se leeftyd nie kon begryp nie, was dat die Messias, wat hulle verwag het as ’n oorwinnende koning sou kom, eers sou moes sterf om die straf vir die sondes van die mensdom te betaal. Selfs toe Jesus Christus hierdie waarheid aan die dissipels geopenbaar het, het hulle geweier om dit te aanvaar. Nie lank voor Sy dood nie, “het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” (Matteus 16:21-22). Hulle het nie net hierdie aspek van Christus se sending nie verstaan nie, maar hulle het botweg geweier om dit te glo.

Later, nadat hulle die Heilige Gees op die Pinksterfees ontvang het (Handelinge 2:1-4), het die dissipels verstaan dat, soos die Skrif geprofeteer het, die Messias sou moes sterf en opgewek word. Die apostel Petrus het in sy eerste geïnspireerde preek aan die Jode wat in Jerusalem vergader het, verkondig dat Dawid in een van sy psalms “gespreek [het] van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.” (Handelinge 2:31).

Persoonlike redder, of Verlosser, nodig

Petrus moes die gedagtes van die Jode van sy tyd op Christus se versoeningsoffer en rol as persoonlike redder, of Verlosser fokus, eerder as net as ’n nasionale leier: “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is … Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het (Handelinge 2:32-36). Diegene wat oortuig was, het gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” Petrus het geantwoord: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:37-38). Duisende het gereageer op hierdie oproep tot bekering—’n veranderde lewe—en was gedoop.

Petrus het hulle gehelp om te sien dat God se beloftes aangaande die Heilige Gees en verlossing (Handelinge 2:17-21; 33-40) slegs moontlik was vanweë die offer en opstanding van Jesus, die geprofeteerde Messias (Handelinge 2:24; 30-36). Diegene met wie Petrus gepraat het, het nie die behoefte aan die Messias se offer vir hulle persoonlike sondes verstaan nie, en het ook nie besef dat die Een wat hulle sopas tot die dood veroordeel het, in werklikheid die Messias was na wie hulle almal verlang het nie. Die apostels het moeite gedoen om hierdie misverstande reg te stel.

Petrus se volgende openbare boodskap het duidelik gemaak hoe Christus se versoenende, reddende werk tot die komende Koninkryk van God lei: “Maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly. Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:18-21).

Hierdie wonderlike boodskap, wat duisende meer gemotiveer het om te glo, illustreer die manier waarop die evangelie van die begin af verkondig was, hoe dit Christus as die lydende Messias betrek het en hoe dit ’n boodskap was van die “tye van die wederoprigting”—die wonderlike hoop van Christus se wederkoms as Koning van ’n nog toekomstige Koninkryk.

Waarheen Christus se offer lei

Die apostel Paulus het met groot duidelikheid die betekenis van Christus se offer gesien en waarheen dit uiteindelik lei. In sy eerste brief aan die Korintiërs beskryf hy die boodskap wat hy geleer het: “… ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte” (1 Korintiërs 15:1-4).

Jesus Christus se offer van Sy lewe in ons plek is beslis goeie nuus. Sy betaling van die doodstraf vir ons is wonderlike nuus!

Maar Paulus se beskrywing van die evangelie wat hy verkondig het, het nie daar geëindig nie. Nadat hy met Christus se wonderlike rol in ons persoonlike verlossing begin het, het hy voortgegaan met sy verduideliking van die rede waarom Jesus Christus se opstanding so belangrik is vir die redding van die ganse mensdom: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:19-22).

Almal sal weer lewend gemaak word

Let op dat Paulus sê dat almal uiteindelik lewend gemaak sal word. Hy het voortgegaan deur te wys dat dit in fases sal gebeur: “Maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het” (1 Korintiërs 15:23-24).

Ons het vroeër gelees van Christus se heerskappy as Koning van daardie komende Koninkryk. Maar let op dat Sy aanname van mag as Koning voorafgegaan word deur die opstanding van “die wat aan Christus behoort by sy koms”!

Regdeur hierdie hoofstuk verduidelik Paulus hierdie wonderlike aspek van die evangelieboodskap wat hy geleer het. In 1 Korintiërs 15:50-53 het hy verduidelik wanneer en hoe ons in die Koninkryk van God kan ingaan: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” 

Dit is die ontsagwekkende doel vir Jesus Christus se geboorte, lewe, dood en opstanding—die opstanding van baie, baie meer tot die ewige lewe om “die koninkryk van God … [te] kan beërwe”! (vers 50). Christus se volgelinge sal die Koninkryk erwe, of ingaan, “met die laaste basuin” [vers 52] die harde trompetgeluid wat Christus se wederkoms sal aandui om vir ewig oor die aarde te regeer (Matteus 24:30-31; Openbaring 11:15).

Ons sien dat onsterflike lewe in Sy koninkryk moontlik gemaak word deur Jesus Christus, “wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie” (2 Timoteus 1:10).