Hartlik welkom by die United Church of God! Ons is ‘n Christelike kerk wat onsself daaraan toewy om God se wil te leer en te doen. Ons kom uit diverse agtergronde, maar deel dieselfde visie: om die Evangelie van God se Koninkryk te verkondig en ‘n volk voor te berei. Die Bybel is die spil van ons Sabbatdienste.
Ons missie is om die evangelie van Jesus Christus en die Koninkryk van God in die hele wêreld te verkondig, dissipels in alle nasies te maak en vir daardie dissipels te sorg.
‘n Kerk gelei deur God se Heilige Gees, saamgevoeg en verbind deur wat elke lidmaat voorsien, met almal wat hul deel doen en in liefde groei om God se groot doel vir die mensdom te vervul om baie kinders tot heerlikheid te bring (Ef 4:16; Heb 2:10).
Die Kerk moet dieselfde ‘Evangelie van die Koninkryk van God’ wat deur Jesus Christus geleer is, aan die wêreld verkondig. Dit is die sentrale tema van alles wat Jesus verkondig en geleer het. Hierdie boodskap bied nie net groot hoop vir die hele mensdom nie, maar sluit ook die doel vir die menslike bestaan in - waarom ons hier is en waarheen ons wêreld op pad is.
Jesus het gekom om die evangelie van die koninkryk van God te verkondig (Markus 1:14). Maar wat was Sy boodskap?
Die woord ‘evangelie’ beteken goeie nuus – met die klem op God se genadige belofte van ewige verlossing aan gelowiges. Saam met die belofte is ‘n wonderlike geleentheid om deel te neem aan ‘n letterlike Koninkryk onder die heerskappy van (Koning) Jesus Christus, wat sal terugkeer om wêreldvrede vir almal te bewerkstellig.
Die Kerk se totale missie strek veel verder as sy aanvanklike verantwoordelikheid om die evangelie te verkondig en nuwe dissipels te maak.”En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efesiërs 4:11-13).
Die Kerk word opdrag gegee om nie net, soos Hy beveel het, Sy skape te voed nie, maar ook om hierdie volgelinge voor te berei om groter diens aan God, hul gesinne, hul gemeenskappe en hul medemens te lewer. Jesus het diens aan ander beklemtoon.
“Kyk watter liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Johannes 3:1).
In die Bybel beteken die woord “kerk” nie die gebou, die leier, of die vermaak nie. “Kerk” beteken
Ons is daartoe verbind om die ware Bybelse Christendom te herwin en te beoefen en God se ontsagwekkende plan met die wêreld te deel. Ons volg die voorbeeld van Jesus en die apostels in die onderhouding van die Tien Gebooie – insluitend die onderhouding van die Sabbat op die sewende dag van die week, Saterdag. Ons streef daarna om dieselfde leringe, leerstellings en praktyke van die vroeë Kerk te volg.
Ons vier ook die jaarlikse heilige dae van God, aangesien hierdie vakansiedae God se plan weerspieël. Christus is byvoorbeeld gekruisig op die Pasga (14 Nisan), en God se Heilige Gees het op die Pinksterdag (Eerstelinge) gekom. Net so verwag ons dat die wederkoms van Jesus Christus geassosieer sal word met die Dag van die Trompette (Rosh Hashanah) met die blaas van die ‘laaste trompet’. Op daardie groot dag in die nabye toekoms sal Jesus Christus na hierdie aarde terugkeer om God se vreedsame regering oor alle volke en nasies te vestig. Hy sal dit doen op ‘n tydstip wanneer die mensdom op die punt staan om homself te vernietig as God nie ingryp nie.
En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word (Matteus 24:22).
Die United Church of God is in 1995 gestig toe leraars bymekaargekom het om ‘n kerk te stig gebaseer op die leringe van Jesus Christus en die eerste-eeuse apostels. ‘n Konferensie is in dieselfde jaar in Indianapolis, Indiana, gehou om ‘n kerk te stig met ‘n missie om die evangelie, net soos Jesus Christus gedoen het, te verkondig en om te sorg vir diegene wat God sou roep. ‘n Raad van 12 persone, bestaande uit Leraars, was verkies deur ‘n algemene vergadering van alle geordende leraars in die United Church of God, en was getaak om ons verklaring van geloofsoortuigings op te stel en ‘n president en operasionele bestuurders aan te wys.
Sedertdien het ons hard gewerk om sterk, entoesiastiese en florerende gemeentes te vestig, die evangelie al hoe meer effektief te verkondig en ‘n helpende hand aan ‘n lydende wêreld te bied. Die vernaamste is ons primêre tydskrif, Beyond Today, wat beskikbaar is om ander te leer oor God se wonderlike plan vir alle mense. ‘n Jeugkampprogram is ook gestig om toekomstige geslagte van die Kerk te ondersteun. Die Good Works-program was later gestig waardeur plaaslike gemeentes finansiële hulp kan bied in geval van noodgevalle wat ons lede en hul gemeenskappe raak.
Ander pogings om die evangelie te verkondig, sluit in ‘n biblioteek van gedrukte boekies wat gratis beskikbaar gestel word en ‘n toeganklike, insiggewende webwerf wat daarop gemik is om mense te help om ‘n sterker verhouding met God die Vader en Sy Seun, Jesus Christus, te ontwikkel. Daarbenewens het die Kerk ‘n weeklikse televisieprogram, Beyond Today, wat aanlyn beskikbaar is, en wat ook regoor die Verenigde State en ander lande, insluitend die Filippyne, Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die Verenigde Koninkryk, uitgesaai word.
Ons werk gaan voort. Jesus Christus se voorbeeld van liefde en diens aan alle mense inspireer ons elke dag. Daardie dinge is ‘n belangrike deel van ons geskiedenis.
Die woord evangelie kom van die Grieks en beteken goeie nuus. Christus se prediking was die goeie nuus van die koms van God se koninkryk: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word tot ‘n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Die evangelie van die koninkryk is die goeie nuus wat Christus van die Vader af gebring het oor God se koninkryk en van die familie van God. Hierdie goeie nuus het alles te doen met die geboorte van God se kinders in die koninkryk en God se plan om nog baie kinders tot heerlikheid te bring (Hebreërs 2:9-10).
Die goeie nuus is die feit dat Christus die mens van die ewige dood verlos het en toegang tot God se koninkryk moontlik gemaak het, waardeur diegene wat deur God geroep en uitverkies is en met God se hulp oorwin het, God se heerlikheid as ewig lewende kinders van God kan binnegaan. Daarom word die evangelie van God se koninkryk ook “die evangelie van die heerlikheid” genoem (1 Timoteus 1:11). Paulus het die volgende oor hierdie heerlikheid geskryf:
“Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid” (2 Timoteus 2:10).
“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kolossense 3:4).
Ons glo dat die Ou en Nuwe Testamente mekaar aanvul en nie teenstrydig is nie. Om hierdie rede onderhou ons die Bybelse Heilige Dae van Levitikus 23 want hulle is ‘n pad wat die mensdom deur God se verlossingsplan lei. Ons erken Christus as ons verlosser—ons Paaslam—en ons sien uit na Sy wederkoms.
Die Sabbat is meer as net ‘n dag vir kerk. Dit is ‘n dag aan die einde van die week vir ons om te rus en te besin—net soos God dit aan die einde van die skeppingsweek gedoen het. God sit hierdie tyd opsy om met Sy skepping deur te bring en ons sit dit opsy om met Hom deur te bring!
Die United Church of God streef daarna om gemeentes regoor die wêreld te vestig waar mense bymekaar kan kom en leiding kan ontvang in ‘n godvrugtige lewe en diens. Ons gemeentes word bedien deur geordende leraars wat opgelei is om die Skrif akkuraat te onderrig en te verduidelik en om diegene wat persoonlike leiding versoek, te adviseer. Die Leraars word dikwels bygestaan deur ander toegewyde mans en vroue wat gemeentes help om hul volle potensiaal te bereik in die diens van ander – soos geleentheid, behoefte en hulpbronne dit toelaat.
Ons broeders en susters is versprei oor ses kontinente in honderde gemeentes. Ons verskil in taal en kultuur, maar ons word verenig deur ons oortuigings en ons liefde vir mekaar. Ons hou daarvan om bymekaar te kom vir danse, potjiekos en sportnaweke. Die Huttefees is ‘n geleentheid vir ons om te reis (naby of ver!) om saam te aanbid.
Kortliks, die United Church of God aanvaar die hele Bybel as die lewende Woord van God. Ons verskil hoofsaaklik van die hoofstroom Christendom in ons begrip van die relevansie en belangrikheid van God se wet, wat duidelik deur die hele Bybel blyk. Terwyl ons vas glo dat ons deur genade alleen gered word, glo ons ook dat die onderhouding van God se wet die middel is waardeur ons ons liefde vir God en ons medemens demonstreer en in godvrugtige karakter groei (1 Johannes 2:4).
Vir meer besonderhede, klik hier.
Onder andere publiseer ons ‘n tweemaandelikse tydskrif, Beyond Today, met artikels oor onderwerpe wat verband hou met die moderne lewe vandag, wat vanuit ‘n Bybelse perspektief aangebied word. Ons publiseer ook ‘n kerktydskrif met plaaslike en internasionale nuus (United News) en publiseer ‘n groot aantal boekies en ander materiaal vir Bybelstudie – nuwe uitgawes word voortdurend gepubliseer. Al ons publikasies word gratis en sonder verpligting aan u aangebied.
Ons is dankbaar vir die vrygewige tiendes en offergawes van die lede van die Kerk en ander bydraers wat hierdie werk vrywillig ondersteun. Ons doen nie ‘n beroep op die algemene publiek vir finansiële hulpbronne nie.
Dit is ons begeerte om God se lewenswyse te deel met diegene wat ernstig kies om ons Verlosser en Leier van ons geloof, Jesus Christus, te aanbid en te volg. Ons leraars is beskikbaar om jou te adviseer, vrae te beantwoord en die Bybel te verduidelik. As jy met een van ons leraars wil praat of een van ons dienste wil bywoon, kontak ons asseblief.
Bring u Bybel en lees saam met ons.
Ons moedig almal aan om ‘n Bybel saam te bring en saam met ons te lees.
Ons open en sluit ons dienste met sang en gebed.
Ons soek God se leiding in alles wat ons doen – insluitend om Hom te aanbid! Na drie gesange word die gemeente eers in ‘n kort gebed gelei wat God se leiding en inspirasie vir die diens vra.
Ons preek direk uit die Bybel.
Normaalweg lewer ons in elke diens twee Bybelgesentreerde boodskappe wat wys hoe om God se lewenswyse te leef. Die kort preek is ongeveer 15 minute lank, gevolg deur ‘n langer preek wat ongeveer ‘n uur kan duur. Soms word ‘n vooraf-opgeneemde boodskap of ‘n regstreekse Internet-uitsending aangebied.
Ons moedig die hele gesin aan om saam te sit vir dienste om saam te leer en God te aanbid.
Om saam te eet is ‘n wonderlike manier om nader aan mekaar te groei en elke Sabbat ‘n goeie tyd te geniet.
Ons hou dikwels sosiale geleenthede soos potjiekos-etes, speletjiesaande en sportbyeenkomste. Die Kerk is ‘n familie, en families groei wanneer hulle tyd saam deurbring.